Pretoria-Oos Geskiedenis
Leer-Avontuur
Pretoria-Oos Gister
A- Die Laerskool Pretoria-Oos is een van die oudste laerskole in die stad en het ‘n tradisieryke geskiedenis wat terug dateer tot 24 Januarie 1928 toe die skool geopen is met 40 leerders. Me Tille Faure was die eerste skoolhoof. Die skool is destyds gehuisves in die SOE saal, Suidstraat Hatfield. B- Die leerdertal het gegroei tot 157. Die skool is in 1930 verskuif na Roosmaryn, nou ‘n dameskoshuis van die Universiteit van Pretoria. C- In Januarie 1958 is die 3e gebou betree. Al die leerders het self hul stoeltjies en banke gedra na die nuwe terrein waar die skool tans geleë is, op die terrein reg oorkant die hoofingang van die Universiteit. Die hoeksteen van die huidige gebou is op 15 Maart 1957 deur die destydse administrateur van Transvaal, dr W M Nicol gelê. Mettertyd is nog klaskamers aangebou, die terrein is ontwikkel en ‘n swembad is gebou. Heelwat bekende persone op verskillende terreine van die samelewing het hul grondslag by Laerskool Pretoria-Oos gehad.
Pretoria-Oos Vandag
Die skool het vandag nog steeds ‘n eg Afrikaanse karakter
waar kinders nog kaalvoet kan loop en werklik skoolgaan kan geniet.
In ‘n kindervriendelike atmosfeer word leerders toegerus en
geleenthede gebied om op akademiese-, sport- en kultuurgebied
hulself toe te rus vir die volgende fase van hul lewe.
Behalwe vir die onderrigpersoneel wat deur die Gauteng Dept van Onderwys aangestel word, word addisionele personeel in Beheerliggaam-poste aangestel om die werklas te versprei wat dan ook kleiner klasse (gemiddeld 25 per klas) tot gevolg het, sodat meer individuele aandag aan elke leerder geskenk kan word.
Laerskool Pretoria-Oos se godsdiensbeleid is gegrond op waardes soos liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, gehoorsaamheid, nederigheid, en selfbeheersing.
Die skool is ‘n voorstander van moedertaalonderrig en is nog eg Afrikaans in die sin dat die onderrigmedium nog steeds Afrikaans is.
Hier is egter wel ook anderstalige leerders wat goed inskakel en baat vind by die onderrigsituasie.
Die leerders se veiligheid is ook hoog op ons prioriteitslys, daarom het ons, ons eie sekuriteitswag wat daagliks by die hoofingang op diens is.
Laerskool Pretoria-Oos spog met ‘n pragtige terrein met heelwat fasiliteite wat tot die beskikking van die leerders is.
‘n Goed toegeruste rekenaarsentrum, naskoolsentrum, ‘n mediasentrum, n Gr. R Fasiliteit, tennisbane, sportveld asook ‘n swembad wat basies al die sportsoorte kan akkommodeer.
Laerskool Pretoria-Oos – beslis ‘n skool van keuse, ons strewe na uitnemendheid in ‘n gemaklike leeratmosfeer waar die kind sentraal staan.